Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS – SONDAG – 22 JUNIE 2008


U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word.

Oudio is ook beskikbaar via die web www.sarl.org.za, klik op ARMI en volg die koppelings soos aangedui. Vir oudio via Echolink koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie, en vorige bulletins, kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser vanoggend is (Naam en Roepsein), vanuit Pretoria met herleidings op 28,325, 14,235, 10,130, 7,066 en 3,695 MHz ESB, asook 51,400, 438,825 en 1 297 MHz FM in die Pretoriagebied. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik).

In die nuus vandag:

NOG ’N PLUIMPIE VIR SARL-HAMNET

REGISTRASIE VAN EKSAMINATORS EN ASSESSORS

OKOSA KANSELLEER KLT-VERHOOR

INTEGNET FOKUS OP BOUSTELLE

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante nuusitems.

NOG ’N PLUIMPIE VIR SARL-HAMNET

Hamnet het hierdie week nog ’n pluimpie ontvang. ’n Brief van die sekretaris-generaal van die Cyprus Amateurradiovereniging vra toestemming om die Hamnet-inligting op die SARL-webwerf te gebruik, asook enige verdere ondersteuning wat Hamnet kan voorsien om ’n noodkommumikasie-organisasie in sy land tot stand te bring.

Hy skryf: "I have been studying through the Net the various EmComm organisations as set up in various amateur radio societies all over the world and I find that the structure you use in S.A. could be adapted to suit our needs here in Cyprus. Our country's small size and the limited number of active hams, make us tend to think that the national/regional/sub-regional structure is ideal for our needs."

Indien u belangstel om u kennis en amateurradiostasie aan te wend tot voordeel van jou land, sluit gerus aan by Hamnet. Volledige besonderhede is op www.sarl.org.za beskikbaar. Aangesien Hamnet die noodkommunikasie-afdeling van die SARL is, is dit voordiehandliggend dat u ’n lid van die SARL moet wees. Indien u nie ‘n lid is nie, sluit gerus nou aan. Die nasionale liggaan vir amateurradio het u nodig en u het die nasionale liggaam nodig.

REGISTRASIE VAN EKSAMINATORS EN ASSESSORS

Om in pas te bly met ander nasionale eksaminerende liggame is dit noodsaaklik dat esksaminators en assessors jaarliks registreer. Indien u tans ’n esksaminator of assessor is en u nog nie u registrasievorm vir 2008/2009 ingestuur het nie, doen dit asseblief sonder versuim. ’n Nuwe lys van geregistreerde esksaminators en assessors sal op 1 September gepubliseer word en sal die ou lys vervang.

Dit is ’n eenvoudige proses. U moet die vorm van www.sarl.org.za aflaai. U sal dit in die lisensiëring-afdeling kry. Voltooi die vorm, laat u klub-bestuur dit onderteken en faks dit aan 088 011 675 2793. ’n Opgedateerde lys sal so gou moontlik na 1 September 2008 gepubliseer word. U samewerking word waardeer.

OKOSA KANSELLEER KLT-VERHOOR

OKOSA het verlede week se KLT-verhoor slegs enkele minute voordat dit sou begin, gekanselleer. ’n Nuwe datum sal binnekort aangekondig word. Ontstelde OKOSA-amptenare het verskoning aangebied aan die organisasies wat genooi was om hul besware teen die voorgestelde KLT-regulasies voortelê, vir die uitstel op die laaste minuut. Die rede wat hulle vir die uitstel aangebied het, is ’n administratiewe probleem.

INTEGNET FOKUS OP BOUSTELLE

In die lig van die uitstel van die OKOSA KLT-vehoor, sal Integnet se fokus op boustelle en die bou daarvan uitgebrei word. By sommige van die onlangse RTA’s is die behoefte vir boustelle vir nuwelinge aan amateurradio, veral die jonger geslag, uitgelig. Hier is ’n geleentheid vir klubs wat oor boustelle beskik, om te gesels. Die vraag of die SARL ook ’n databasis van beskikbare boustelle moet vestig, is ook geopper. Deel u idees en ondervinding met tuiskonstruksie. Sluit op Sondag 29 Junie om 19:30 SAT aan by die gesprek.

HET U DEELGENEEM AAN DIE JEUGNAELLOOP?

Indien u aan die jeugnaelloop deelgeneem het en u foto’s het, deel dit asseblief met ons. ’n Aantal jongelinge is op die 40 m-band gehoor, en almal het ‘n goeie bydrae gelewer. Stuur asseblief u foto’s aan armi@sarl.org.za en vertel ook in ’n paar reëls hoe aangenaam u ondervinging daarvan was. Vir publikasie verkies ons hoë-resolusie foto’s.

Onthou asseblief om u logstate in te stuur om die deelnamesertifikate te ontvang en om aan die loting vir uitstekende pryse deel te neem.

KOMPETISIENUUS

Die SARL-digitale kompetisie is volgende Sondag, 29 Junie vanaf 15:00 tot 18:00 SAT, op die lug. Aktiwiteit is op HF sowel as BHF. Die reëels is beskikbaar in die SARL-kompetisiehandboek en sal ook in die volgende HF Happenings gepubliseer word.

DUITSE AMATEUR MAAK AANSPRAAK OP EERSTE DZCC OP 432 MHz

(Verkry uit ARRL News)

Die wêreld van amateurradio het ‘n nuwe mylpaal verbygesteek. Op Vrydag 6 Junie, het Jan Bruinier, DL9KR, van Niedernhausen, Duitsland, sy 100ste land op 432 MHz (70 cm) dmv. maankaatsing (AMA) en GG gewerk.

Samek Zdenek, OK1DFC, en Hofbauer Zdenek, OK3RM, het gereed gemaak om op ‘n AMA-ekspedisie na Masedonië te verkas. Voor hulle vertrek het Samek vir Bruinier gevra om met die toets van hulle toerusting te help en Bruinier het ‘n sein na die maan gerig. Volgens BHF-guru en redakteur van van QST se kolom “Wêreld bokant 50 MHz”, Gene Zimmerman, W3ZZ, word dit gedoen deur ‘n serie van GG-punte uit te stuur en dan te stop en te luister of die sein na ‘n bietjie meer as ‘n sekonde later terugkom. Die maan is gemiddels 384 000 km ver van die aarde af en radioseine trek teen ong. 300 000 km per sek.

Na een van hierdie uitsendings was Bruinier opgewonde om Samek se antwoord op daardie frekwensie met ‘n 549 rapport te hoor. Dus, na ‘n uitruiling van oproepe en verslae, is Bruinier se 100ste land op m432 MHz in die logboek. Sodra sy QSL-kaarte in die nabye toekoms bevestig is, sal hy DXCC No.1 op 70 cm wees.

HF-VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, rapporteer dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak die komende week baie laag gaan wees. Die geomagnetiese veld sal oor die algemeen stil wees tot 24 Junie, waarna onstuimige vlakke tot 27 Junie verwag word. Die voorspelde effektiewe sonvlektelling sal gedurende die komende week minder as 5 wees. Die verwagte DX-toestande is goed in noordelike rigtings, maar swakkerig vir die hoofsaaklik Noord-Westelike rigtings.

20 m is die beste keuse vir DX, met moontlike flou 20 m-openinge vanaf 15:00 SAT na Indië. Kontakte met Australië is moontlik gedurende 08:00 tot 10:00 in die oggend. Vanaf ongeveer 17:00 is daar moontlike 20 m-openinge na Europa.

Kontakte met die VSA gaan baie uitdagend wees.

10 MHz lyk laatmiddag en na sononder bruikbaar vir die morsekode en digitale entoesiaste.

Plaaslike toestande gaan gedurende die dag op 40 m goed wees. 80 m behoort gedurende die oggende en laatmiddag goeie resultate oor die korter afstande te lewer.

Saans is 80 m die beste keuse, veral nou dat die meeste donderstorms en statiese ontladings agter die rug is. 160 m gaan goeie resultate vir die SARL se komende 160 m QSO-geselligheid oplewer. Dit is nou die ideale tyd om 'n plan vir 'n 160 m antenna te maak as u nie alreeds een het nie, en die opwinding en nukke van topbande te beleef.

Onthou dat hierdie net 'n voorspelling is en dat HF jou steeds kan verras. Skakel jou stel aan, luister, en roep ook CQ om seker te maak dat jy deel van die opwinding is.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

18 tot 23 Junie – SARL Topband QSO-geselligheid;
6 Julie –4- Indien van BHF-/UHF-/Mikrogolfrekords;
29 Junie – SARL- digitale kompetisie;
6 Julie – Spertyd vir indien van BHF-/UHF-/Mikrogolfrekords.

SARL nuus nooi klubs en individue uit om nuusberigte wat vir radioamateurs en kortgolfluisteraars van belang is, in te stuur. Indien moontlik, voorsien nuusberigte in beide Afrikaans en Engels op www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later nie as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan.

Die SARL nooi u ook om na die program Amateur Radio Mirror International, wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-gebied met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 590 kHz, te luister. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op ARMI en volg die skakels. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 21:00 SAT op 3 215 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga wat deur Roger, ZR3RC, saamgestel is.

'n Voorspoedige week word aan almal toegewens, 73.

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003